Praat ons taal om geld te spaar


U betaal reeds bydraes aan u mediese skema, so dit behoort nie nodig te wees om ekstra te betaal om ’n dokter te spreek of medisyne te kry nie. Hierdie artikel verduidelik wat ons met sekere terme bedoel, en verduidelik wat u kan doen om nie meer te betaal as wat nodig is nie. Ons noem die bedrag wat ons nie dek nie en u self aan die dokter, apteek of hospitaal betaal ’n bybetaling.

Volle dekking by gesondheidsorgverskaffers in ons netwerk

Omdat ons ’n mediese skema is, kan ons tariewe onderhandel met gesondheidsorgverskaffers soos dokters, spesialiste, hospitale en apteke. Gesondheidsorgverskaffers waarmee ons ’n betalingsooreenkoms het, word deel van ons netwerk. Ons kies nie gesondheidsorgverskaffers omdat hulle die goedkoopste is nie; hulle moet aan ons gehaltestandaarde voldoen.

Wanneer ons sê dat u volle dekking by netwerkverskaffers het, beteken dit dat ons hulle direk betaal solank u voordele beskikbaar het. U hoef slegs ’n netwerkverskaffer te besoek en u gesondheidsorgdiens ontvang. U spreek dan ’n goeie dokter of besoek ’n kwaliteit hospitaal sonder om self deel van die koste te dra.

Om ’n gesondheidsorgverskaffer te vind waarmee ons 'n ooreenkoms het, teken aan by www.yourremedi.co.za of gebruik Discovery se toepassing vir slimtoestelle.

Vra u dokter om medisyne op ons lys voor te skryf

Die duurste medisyne is nie altyd die beste medisyne nie. Ons het dus ’n medisynelys opgestel met medisyne wat bewys is om te werk. Ons betaal ten volle vir medisyne op ons medisynelys solank u voordele beskikbaar het.

Ons lys gewoonlik die generiese weergawe, pleks van die oorspronklike weergawe van die medisyne. Oorspronklike medisyne is gewoonlik duur omdat dit ’n lang en duur proses is om nuwe medisyne op die mark te kry. Generiese medisyne is ’n kopie van die oorspronklike medisyne en bevat dieselfde aktiewe bestanddeel as die oorspronklike. Dit werk gewoonlik net so goed soos die oorspronklike.

Vra u dokter of spesialis om medisyne op ons lys voor te skryf om bybetalings te vermy. U kan ook die apteker vra of ’n generiese weergawe beskikbaar is.

Vra ons vóór u hospitaal toe gaan of ’n skandering of prosedure laat doen

Voorafmagtiging is die proses om ons te kontak om u voordele te bevestig vóór u hospitaal toe gaan, vir sekere skanderings gaan of sekere mediese prosedures laat doen. Voorafmagtiging is belangrik omdat u ’n bybetaling kan hê indien u nie voor die tyd goedkeuring kry nie. Wanneer ons u magtiging gee, vertel ons u ook hoeveel u self sal moet betaal.

Indien u nie voorafmagtiging kry nie, sal ons dalk nie vir die prosedure betaal nie, en u sal die hospitaal R1 000 moet betaal.

Vermy bybetalings deur u voordele te bevestig voor u die hospitaal besoek, en gebruik ons netwerke en medisynelys.