Bly veilig en bel ER24 wanneer u hulle nodig het

Wanneer iemand sê hulle gaan reis, dink mens waarskynlik aan vakansie. Maar eintlik reis ons elke dag om by die werk of skool uit te kom, kruideniersware te koop of by vriende te kuier. In Suid-Afrika beteken dit gewoonlik dat mens soontoe bestuur. Daar is heelwat wat u kan doen om uself, u familie en vriende veilig te hou op die pad.

Selfs al doen mens alles reg, is dit ongelukkig so dat ongelukke steeds kan gebeur. As u medies-toegeruste vervoer ná ’n ongeluk nodig het, of in enige ander mediese noodgeval, bel ER24 by 084 124. Bêre die nommer sommer dadelik op u selfoon!

ER24 se wenke om veilig te bly

ER24 reageer nie net op mediese noodgevalle nie; hulle weet ook hoe om u veilig te hou wanneer u op die pad is. Dit maak nie saak hoe ver u reis nie, u kan altyd help om ongelukke te voorkom of beserings tot ’n minimum te beperk.

Voor u vertrek:

  • Maak seker u voertuig is padwaardig. Maak seker u motor se flikkerligte, ruitveërs en hoofligte werk. Gaan ook die motor se bande na vir slytasie.
  • Maak seker u het ’n spaarwiel, genoeg brandstof in die tenk, ’n noodhulpkissie, selfoon en selfoonlaaier.
  • Sorg dat daar ’n flits, ’n waarskuwingstoestel, brandblusser en ’n retro-weerkaatsende beffie of baadjie byderhand is in geval u motor gaan staan.
  • Beplan u roete.
  • Hou ’n lys met mense wat gekontak kan word se telefoonnommers en inligting oor u mediese geskiedenis. In ’n noodgeval sal dit baie help.

Moenie onder hierdie omstandighede bestuur nie:

  • As u dwelms of alkohol gebruik het. ’n Praktiese reël is om op die meeste een eenheid alkohol ’n uur in te neem, maar om glad nie te drink nie is veiliger.
  • As u nuwe medikasie gebruik en duiselig of lomerig voel. Vra u dokter of apteker oor newe-effekte van enige nuwe medisyne.

In die motor:

  • Dra u sitplekgordel. Maak seker kinders is in die regte kinderstoeltjie vir hulle ouderdom en reg vasgegespe.
  • Bly heeltyd aandagtig en moenie jaag nie.
  • Hou by die padreëls.
  • Dra ’n sonbril as die son direk in u oë skyn. Skerp lig veroorsaak spanning in die oë en dra by tot moegheid.
  • Moenie u aan padwoede oorgee nie. As iemand u kwaad maak, hou liewer u afstand en ignoreer hulle.

As u in ’n ongeluk beland, bly kalm. Hulp sal gou arriveer. Bel ER24 by 084 124, en probeer dan om die toneel veilig te maak, enige beseerdes te beskerm en noodhulp op beseerdes toe te pas as u kan.

U dekking vir nooddienste deur ER24
Wanneer u ER24 bel, sal u deur hoogs gekwalifiseerde nooddienspersoneel bygestaan word, wat met u sal praat oor die situasie en ’n ambulans of helikopter sal stuur indien dit medies noodsaaklik is.

Solank u ER24 skakel en magtiging kry, betaal ons vir mediese noodvervoer uit u risikovoordele, selfs al word u nie in die hospitaal opgeneem nie. Dit beteken ons gebruik nie u dag-tot-dag-voordele om vir die noodvervoer te betaal nie. Al waaraan u moet aandag gee, is om gesond te word.

Bronne:

ER24: Travel safely. 20 Augustus 2018 geraadpleeg
ER24: Quick tips on safe Easter weekend driving. 20 Augustus 2018 geraadpleeg
ER24: Why alcohol and driving do not mix. 20 Augustus 2018 geraadpleeg