Mans én vroue is vatbaar vir hartaanvalle

Hartsiekte is die nommer een oorsaak van dood vir mans én vroue rondom die wêreld. Moet vroue meer aandag aan hartsiekte skenk?

“Ek sien baie mans om hulle cholesterol en bloeddruk te meet en om hulle kanse van hartsiekte te evalueer, maar ek sien minder as helfte die getal vroue om dit te laat doen," sê kardioloog Dr Tony Dalby van Johannesburg. “Vroue is nie bewus dat hulle ook vatbaar vir hartaanvalle is nie. Meer vroue sterf van kardiovaskulêre siektes as van kanker.”

Hartsiekte, ook bekend as kardiovaskulêre siekte, is die hoofoorsaak van dood wêreldwyd. In Amerika sterf 1 uit 3 vroue van ’n hartaanval of beroerte. In Suid-Afrika sien ons ook meer gevalle van hartsiekte. Vroue loop ook die gevaar van hartsiekte.

Wat is ’n hartaanval?

’n Hartaanval gebeur wanneer die bloedvloei na ’n deel van die hart onderbreek word. Dit gebeur vir verskeie redes, soos vetterige neerslae wat in ’n slagaar opbou óf 'n besering. “Sonder bloedtoevoer sterf die hartspier,” verduidelik Dr Dalby. Hoe langer ’n slagaar geblok is, hoe meer word die hartspier beskadig. Sodra ’n spier doodgaan, kry die hart permanente littekens.

“Met ’n litteken op u hart werk die hart nie ordentlik nie. U kan in die toekoms moontlik sterf weens hartversaking of as die hart skielik ophou klop.”

Sou u weet of dit sooibrand of ’n hartaanval is?

Die kort antwoord is “nee”. “’n Hartaanval is dalk nie die ergste pyn ooit nie,” verduidelik Dr Dalby. “Sekere pasiënte ontwikkel wel erge pyn, maar dis meer algemeen dat die pyn houdbaar voel en dat die hartaanval verkeerdelik aan iets anders toegeskryf word."

Volgens die Hart- en Beroertestigting, sluit 'n hartaanval die volgende simptome in:

  • ’n Oorweldigende angsgevoel
  • Kortasemheid
  • Lighoofdigheid en duiseligheid
  • Buikpyn, naarheid of braking
  • Die pyn kan versprei na u skouers, arms, nek of kakebeen
  • Sweet
  • Borskaspyn wat kan voel soos drukking, engheid, ongemak of inpersing

Indien u dink dat u besig is om ’n hartaanval te kry, skakel ER24 by 084 124.

Is u in gevaar?

U risiko vermeerder met elke vraag waarop u ja antwoord.

  • Het u diabetes?
  • Het u hoë cholesterol?
  • Het u hoë bloeddruk?
  • Eet u ongesond?
  • Is u oorgewig of het u vetsug?
  • Is u onaktief en oefen u nie gereeld nie?
  • Het u al vantevore ’n hartaanval, beroerte of arteriesiekte gehad?

Gesels met u algemene praktisyn indien u bekommerd is oor u risiko van hartsiekte.

Kan mens hartsiekte voorkom?

Genoeg oefen en gesond eet kan meeste (80% van) sterftes weens hartsiekte in mense jonger as 65 jaar voorkom. ’n Gesonde hart beteken dat mens meeste hartaanvalle kan voorkom, maar nie almal nie. Ten spyte daarvan kan ’n gesonde leefstyl beteken dat u kans beter is om ’n hartaanval te oorleef en daarvan te herstel.

Besoek die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika vir meer inligting oor hartgesondheid by www.heartfoundation.co.za

Dit maak nie saak hou oud u is of hoe gesond u leef nie; luister na u hart vir 'n langer, gesonder lewe!