Wenke vir ’n gesonde vakansietyd


Ná ’n lang jaar gee Desember u ’n blaaskans om u batterye voor die nuwe jaar te herlaai. Of u met Jan Tuisbly se karretjie ry of met vakansie gaan, het ons ’n paar wenke om in Desember gesond te bly.

Vries gesonde etes

Net omdat Desember tradisioneel die tyd is om u gunsteling ongesonde geregte te eet, beteken nie dat u gesonde etes moet prysgee nie. Om te keer dat u wegneemetes kry, maak meer kos wanneer u kook en vries daarvan. Dan is daar gesonde kos as u nie lus is om kos te maak nie.

Hoede en sonskerm

As u daaraan gewoond is om binnenshuis te wees, wag die somer son sy kans af om u te brand. Daar is ’n verband tussen sonskade en velkanker. Elke sonbrand kan gevaarlik wees. U kan brand selfs as u vel donker is, so gebruik sonskerm en sit deur die dag weer op. Dit help ook om ’n hoed te dra aangesien sonskerm nie al die sonstrale keer nie. ’n Hoed kan u ook afkoel en help om u teen hitte-uitputting te beskerm.

Bederf uself met slaap

Sommige mense ooreet in Desember om hulself te bederf. Pleks daarvan om uself met kos te beloon omdat u dit deur die jaar gemaak het, beloon uself met slaap. As u te min slaap, kan u gewig optel of meer gestres voel. Om genoeg te slaap is ’n belangrike deel van ’n gesonde leefstyl.

Wees verantwoordelik as u drink

Dit is ’n Suid-Afrikaanse tradisie om om die braaivleisvuur te drink en om die nuwe jaar met ’n drankie te verwelkom. Om meer tydens die vakansie te drink kan u hartklop onreëlmatig maak, veral as u skielik meer as gewoonlik drink. Die Hart- en Beroertestigting beveel aan dat mans nie meer as twee drankies ’n dag drink nie en vroue nie meer as een drankie ’n dag drink nie. ’n Drankie is 340 ml bier, 120 ml wyn, 60 ml sjerrie, of 25 ml sterk drank.

Mag u ’n gesonde en gelukkige Desember en ’n voorspoedige Nuwe Jaar hê!