Wanopvattings oor diabetes

U ken heel moontlik iemand wat diabetes of prediabetes het. Diabetes is ’n blywende toestand. Dit word ontwikkel as u liggaam nie genoeg insulien vervaardig nie óf nie ordentlik sy eie insulien kan gebruik nie. Dit word gewoonlik met ’n kombinasie van medisyne en ’n gesonde leefstyl behandel.

Tipe 2-diabetes is “nie so sleg nie”

’n Algemene wanopvatting oor diabetes is dat tipe 1 die “slegte soort” en tipe 2 die minder ernstige of “goeie soort” diabetes is. Dis nie duidelik waar die idee vandaan kom nie, maar dit kan iets met ons vrees vir naalde hê. Mense met tipe 1-diabetes benodig insulieninspuitings om hul bloedsuiker stabiel te hou terwyl mense met tipe 2-diabetes gewoonlik hul bloedsuiker met slegs bloedsuikerpille en leefstylveranderinge kan bestuur.

Sekere mense met tipe 2-diabetes moet egter ook hulself met insulien inspuit aangesien diabetes met tyd kan vererger. Beide soorte diabetes kan ernstige gesondheidkomplikasies veroorsaak soos hartsiekte, beroerte, blindheid, nierversaking en senuweeskade.

Maer mense kan nie tipe 2-diabetes kry nie

Om oorgewig te wees, is een van die grootste risikofaktore om tipe 2-diabetes te ontwikkel. Al is u slegs effens oorgewig, vermeerder u vatbaarheid vir diabetes met tot vyf keer volgens navorsing deur Harvard School of Public Health Professor Walter Willett. Ernstige vetsug verhoog dié risiko op diabetes 60 keer.

Om oorgewig te wees, is nie die enigste groot risikofaktor vir tipe 2-diabetes nie. Genetika is net so belangrik. Mense met ’n familiegeskiedenis van diabetes het ’n groter kans om tipe 1 of tipe 2 diabetes te ontwikkel.

As u iets vreeslik soet eet, “gee dit” u sommer diabetes

Tipe 1 diabetes is geneties en tipe 2 word beïnvloed deur genetika en ander faktore. Om en by 80% van die gevalle van tipe 2 diabetes hou verband met leefstylfaktore. As u nie diabetes het nie en net nou en dan iets vreeslik soet eet, sal die suiker nie outomaties vir u “diabetes gee” nie.

U kan nie tipe 2-diabetes kry as u gesond leef nie

Aangesien 80% van tipe 2-diabetes deur leefstylfaktore aan die gang gesit kan word, is dit maklik om aan te neem dat as u ’n gesonde eetplan volg en gereeld oefen, u nie diabetes kan kry nie. Dis nie waar nie. Sekere mediese toestande, soos polisistiese ovariële sindroom (PCOS), verhoog die risiko van tipe 2-diabetes omdat dit met insulienweerstandigheid verband hou. U kan ook diabetes ontwikkel indien u in ’n ongeluk is wat u pankreas beskadig.

Kry dekking vir die behandeling en sorg van diabetes

Registreer vir die Voordeel vir Chroniese Siektes

U kry nie outomaties dekking vir behandeling vir diabetes wanneer u of ’n afhanklike daarmee gediagnoseer word nie. As u nie registreer nie, betaal ons vir medisyne en toetse uit u dag-tot-dag-voordele. U en u dokter moet die aansoekvorm vir die Voordeel vir Chroniese Siektes voltooi en dit aan ons stuur.

Laai die aansoekvorm van die intranet af of gesels met u menslikehulpbronverteenwoordiger. Andersins kan u Remedi Medical Aid Scheme skakel by 0860 116 116 en ’n chroniese aansoekvorm aanvra.

Sluit aan by ons Program vir die Bestuur van Diabetes

Indien u op die Skema se Voordeel vir Chroniese Siektes vir diabetes mellitis tipe 1 of 2 geregistreer is, kan u by die Program vir die Bestuur van Diabetes aansluit.

Indien u ’n lid van die Omvattende Opsie is, kan u ook by die Sentrum vir Diabetes en Endokrinologie se program aansluit. U kan hulle skakel by 011 053 4400 of ’n e-pos aan members@cdediabetes.co.za stuur. Die sentrum se takbesonderhede is by www.cdecentre.co.za beskikbaar.