Uitslae van die meningspeiling onder Remedi lede vir 2017


Remedi hou elke tweede jaar ’n meningspeiling onder hulle lede, om sodoende:

  • Vas te stel hoe tevrede Remedi-lede oor die algemeen is
  • Te bepaal hoe lede die diensverskaffer-netwerke gebruik en verstaan asook hulle ondervinding daarvan
  • Te verstaan wat lede in ag neem wanneer hulle van netwerk en medieseskema-opsie verander
  • Te bepaal hoe tevrede lede is met die voordele wat Remedi aanbied – in die algemeen asook met spesifieke voordele
  • Lede se bewustheid, kennis en gebruik van die dekking vir voorkomende sorg te bepaal
  • Lede se algehele tevredenheid met die administratiewe dienste te bepaal en vas te stel op watter gebiede verbeter kan word
  • Lede se behoeftes te verstaan ten opsigte van die verskillende kommunikasiemediums wat beskikbaar is
  • Lede se algehele tevredenheid met die kwaliteit van die kontaksentrum te bepaal
  • Te bepaal hoe bewus die lede van Remedi se welstandsprogramme is en wat hulle persepsie is van die waarde daarvan
  • Te bepaal wat lede se algemene persepsie van Remedi is in vergelyking met ander mediese skemas
  • Sleutelgebiede te identifiseer waar Remedi sy dienste kan verbeter

Hier onder is die uitslae:

 

Normaalwyser

2017

2015

2013

Algehele tevredenheid

79%

80%

76%

73%

Tevredenheid met die administrateur

-

87%

81%

73%

Lojaliteit – verkies Remedi

80%

84%

76%

69%

Bekostigbaarheid

77%

77%

87%

71%

Dek u gesondheidsorgbehoeftes

73%

81%

72%

63%

Algehele tevredenheid

Die uitslae toon dat die algehele tevredenheid met Remedi beduidend verbeter het oor die jare aangesien al hoe meer lede aantoon dat hulle baie gelukkig is met die Skema. In 2013 het slegs 22% van die lede gesê dat hulle baie gelukkig is. Teen 2017 het dit tot 47% verhoog.

Hierdie jaar het 80% van die lede gesê dat hulle gelukkig of baie gelukkig is met die Skema oor die algemeen. 

Tevredenheid met die administratiewe dienste

Ons is verheug om te rapporteer dat die tevredenheid met Remedi se administratiewe dienste beduidend verbeter het oor die jare. Dit is as gevolg van ’n verhoging in die getal lede wat aandui dat hulle baie gelukkig is met die diens wat hulle ontvang het. In 2013 het slegs 29% van die lede gerapporteer dat hulle baie gelukkig is, maar teen 2017 het dit tot 54% verhoog.

Lojaliteit

Remedi presteer goed oor die drie sleutellojaliteitstellings. Lede se selfverklaarde lojaliteit, getrouheid en verbintenis aan Remedi het in 2017 van 82% tot 88% gestyg. Lede se voorkeur vir Remedi het ook oor die jare beduidend gestyg – met 15%. In 2017 is 84% van die lede dit eens dat Remedi die skema is waarby hulle verkies om te bly, bo enige ander skema wat hulle ken.

Dit is interessant dat ’n oorweldigende meerderheid lede in die vorige jare dit eens was dat dit belangrik is om op ’n mediesehulpskema te wees. Die wat egter ten sterkste daarmee saamstem, het hierdie jaar met 14% afgeneem in vergelyking met 2015. Dit dui aan dat sekere lede nou minder geneig is om te dink dat mediesehulpskemas uiters noodsaaklik is.

Bekostigbaarheid

Daar word oor die algemeen gedink dat Remedi ’n gunstige koste-per-voordeel-verhouding het. Ooreenkomstig met vorige jare, is meer as driekwart van die lede (76%) in 2017 dit eens dat Remedi bekostigbaar is.

Tevredenheid met die voordele wat aangebied word

Die meerderheid lede is dit eens dat Remedi hulle gesondheidsorgbehoeftes ten volle dek (81%) en goeie waarde vir geld is (84%). Beide stellings toon beduidende verhogings van vorige jare.

Byna driekwart (74%) van die lede was gelukkig of baie gelukkig met die voordele wat Remedi aanbied. Ooreenkomstig algehele tevredenheid, kom dit voor asof tevredenheid met die voordele wat aangebied word, styg soos die opsies meer omvattend raak in die dekking wat hulle bied. Lede op die Omvattende Opsie (51%) was beduidend gelukkiger as diegene op die Standaard Opsie (33%).

Volgens die paar lede (10%) wat ontevrede is met die voordele wat aangebied word, is die drie top kwessies wat lede aangespreek wil hê: uitgawes wat u self moet betaal, ’n kommer dat voordele te min is en die klagte dat sekere medisyne en prosedures nie gedek word nie.

Maniere waarop Remedi kan verbeter

In die meningspeiling het 71% van lede aangedui dat hulle geen voorstelle vir verbeterings het nie en ’n verdere 3% het aangedui dat hulle gelukkig is met Remedi.

Onder diegene wat voorstelle gegee het, het meeste lede aanbeveel dat kliëntediens en kommunikasie asook dag-tot-dag-voordele verbeter moet word (beide teen 5%).