Hou asma fyn dop


Asma is ’n toestand waar u inflammasie in u lugweë kry en dit opswel. Dit vernou die lugweë (die luggange waarmee lug by die longe in en uit gaan) en hulle skei ekstra mukus (slym) af.

As u gereeld kortasem is of ’n fluit- of hyggeluid in u borskas hoor wanneer u asemhaal, het u moontlik asma.

Vir sommige mense is asma net ’n geringe ergenis. Vir ander is dit ’n groot probleem wat met hulle daaglikse aktiwiteite inmeng en tot ’n lewensgevaarlike asma-aanval kan lei.

Asma kan nie genees word nie, maar die simptome kan beheer word. Asma verander dikwels mettertyd. Dit is dus noodsaaklik dat u en u dokter u tekens en simptome gereeld evalueer en u behandeling aanpas, indien nodig.

Tekens en simptome sluit in

  • Kortasemheid
  • Benoudheid of borskaspyn
  • Slaapprobleme wat deur kortasemheid, hoes of asemgefluit veroorsaak word
  • ’n Fluit- of hyggeluid met uitaseming (asemgefluit is ’n algemene teken van asma in kinders)
  • Hoesbuie of aanvalle van asemgefluit wat deur ’n asemhalingsvirus, soos verkoue of griep, vererger word

Wanneer u ’n dokter moet gaan spreek

Asma-simptome is ernstig en kan dodelik wees as dit nie behandel word nie. Vroeë behandeling van asma kan langtermynlongskade verhoed en keer dat die toestand mettertyd erger word. Besoek u dokter:

  • As u vermoed u het asma of as u enige van die bogenoemde simptome het.
  • Om u asma na diagnose te monitor en saam met u dokter te werk om dit onder beheer te hou. Goeie langtermynkontrole help u om beter te voel en kan verhoed dat u ’n lewensgevaarlike asma-aanval kry.
  • As u asma-simptome erger raak, kontak dadelik u dokter as u medisyne nie u simptome verlig nie of as u u vinnigwerkende inhaleerder (asma-pompie) meer gereeld moet gebruik.
  • Asma verander dikwels mettertyd, so u sal moontlik van tyd tot tyd u behandeling moet aanpas.

Wanneer moet u noodbehandeling kry?

Hewige asma-aanvalle kan lewensgevaarlik wees. Werk saam met u dokter om te bepaal wat u moet doen as u tekens en simptome erger word – en wanneer u noodbehandeling nodig het. Tekens van ’n asma-noodgeval sluit in:

  • Kortasemheid of asemgefluit wat vinnig erger word
  • Gee verbetering, selfs nadat u u voorgeskrewe vinnigwerkende inhaleerder (asma-pompie) gebruik het
  • Kortasemheid as u min fisieke aktiwiteit doen

Verwysings

www.mayoclinic.org/diseases-conditions/asthma/basics/definition/con-2002699 http://acaai.org/asthma
http://acaai.org/asthma

Hierdie artikel bevat opinies en feite, en verwysings na ander inligtingsbronne. Raadpleeg altyd ’n geregistreerde gesondheidsorgkundige vir enige persoonlike advies.