Wees versigtig met listeriose in die omloop


U het moontlik artikels gesien oor die listeriose-uitbraak in Suid-Afrika. Indien u gesond is en ’n goeie immuunstelsel het, kan u listeriose in so 'n ligte graad hê dat u nie eers daarvan bewus is nie. Listeriose kan ernstig wees vir babas, kinders en bejaardes – basies vir enige iemand wat maklik siek raak. Wees ook op u hoede as u swanger is – die infeksie kan van ‘n ma na haar ongebore baba of pasgeborene oorgedra word. Gelukkig kan u listeriose voorkom deur versigtig te wees wanneer u kos hanteer.

Wat listeriose is

Listeriose word deur bakterieë veroorsaak en dit kan met antibiotika behandel word. In teenstelling met maagkoors (buiktifus), word listeriose nie deur menslike uitskeiding versprei nie. Listeriose word in grond en water aangetref en kan vrugte, groente en vleis besmet. Dit verskil van ander kosbakterieë, omdat dit in verkoelde kos kan oorleef. Kook maak egter die bakterieë wat listeriose veroorsaak, dood.

Wees versigtig vir ongepasteuriseerde melk, sagte kaas en kouevleis soos salami en weense worsies.

Die vroeë simptome stem ooreen met dié van ander maagkieme, soos koors, lyfseer, moegheid en soms naarheid asook ’n loopmaag. As u ’n swak immuunstelsel of ’n chroniese siekte soos ’n hartsiekte of diabetes het, kan die siekte na u brein versprei (breinvliesontsteking) of na u bloed (bloedvergiftiging). Gaan sien u dokter as u griepsimptome, verwardheid, ’n stywe nek, hartkloppings of moeilike asemhaling ervaar.

Vyf beginsels vir veiliger kos

  1. Bly skoon: Was u hande voor u met kos werk en nadat u met rou vleis gewerk het. Was vrugte en groente voor u dit eet.
  2. Hou rou en gaar kos apart: Hou rou vleis, pluimvee en seekos apart van ander kos. Hou u gaar kos bo-in u yskas en die rou kos onderin om kruisbesmetting te voorkom.
  3. Kook behoorlik: Maak kos behoorlik gaar, veral vleis, pluimvee, eiers en seekos. Maak kos gaar teen ten minste 70 °C.
  4. Hou kos teen veilige temperature: Moenie oorskietkos vir langer as drie dae in die yskas hou nie en maak dit net een keer weer warm. Wanneer u kos weer warm maak, maak seker dat dit deur en deur warm is.
  5. Gebruik veilige water en rou produkte: Koop gepasteuriseerde melkprodukte en was vrugte en groente deeglik voordat dit geëet word. Moenie kos ná die vervaldatum eet nie.

Gesonde eetgewoontes en goeie gesondheid is noodsaaklik vir almal. U kan u beskerm teen meeste siektes wat deur besmette kos veroorsaak word, ongeag watter kiem die rondte doen.

Bronne