Ondersteun ’n geliefde wat aan ’n geestestoestand ly

Enige mediese toestand kan die persoon se gesin sowel as die pasiënt beïnvloed. Dit is veral waar van toestande wat geestesgesondheid beïnvloed. Om ‘n persoon met ’n geestestoestand te ondersteun, verg kennis van wat vir die persoon skadelik kan wees en wat hulle kan help.

Ons het ’n paar idees bymekaar gemaak oor hoe u ’n geliefde kan bystaan. Hou egter in gedagte dat almal verskil. Vra vir u geliefde hoe u kan help. Moenie met die behandelingsplan inmeng as hulle reeds ’n berader, sielkundige of psigiater sien nie.

Geestestoestande is werklike mediese toestande

Slegs ’n dokter kan ’n geestestoestand diagnoseer. Dit is omdat verskillende toestande verskillende tekens en simptome het wat net ’n opgeleide professionele persoon kan bevestig. U kan help deur emosionele nood net so ernstig op te neem as pyn.

As u byvoorbeeld ’n geliefde het wat depressie het, is dit belangrik dat u die persoon se emosies net so ernstig opneem as wat die persoon hulle voel. “’n Depressiewe persoon kan nie sommer net beter voel nie,” sê Cassey Chambers van die South African Anxiety and Depression Group (SADAG). Dieselfde kan gesê word van mense met ander geestestoestande, soos bipolêre versteuring of angs. "Vind uit oor die siektetoestand,” voeg Chambers by. “Hoe meer ’n mens weet, hoe meer kan mens help."

Siektetoestande het mediese behandeling nodig

Die stigma rondom geestestoestande kan dit moeilik maak vir mense wat daardeur geraak word, om uit te reik en hulp te kry. Hulle is dikwels skaam en glo verkeerdelik dat hulle hul siektetoestand met wilskrag moet oorwin. U kan u geliefde help besef dat professionele hulp noodsaaklik is en dat hulle ’n mediese toestand het, nie ’n persoonlike defek of swakheid nie.

Moenie aanmatigend of verkleinerend wees nie

Dit kan frustrerend wees om ’n persoon met ’n geestestoestand te ondersteun, veral as mens voel hulle is besig om onredelik te wees. Dit is egter nie ’n rede om die persoon soos ’n kind te behandel nie. U mag dalk voel u wil u geliefde teen moeilike familie-aangeleenthede of stresvolle situasies, beskerm. Volgens die South African Depression and Anxiety Group (SADAG) is dit belangrik om sosiale en gemeenskapsgesprekke so normaal as moontlik te hou.

“Moenie die persoon by familiegesprekke uitsluit omdat u dink dat dit vir hulle minder stres sal veroorsaak as hulle nie betrek word nie. Behandel die persoon so normaal as moontlik. Vra die persoon waarvoor hulle hoop, wat hulle bang maak, voel en nodig het.”

Help op maniere waarvan u geliefde nie weet nie

’n Studie wat by die University of Alberta gedoen is, sê mens kan help sonder om aandag daarop te vestig. “Wanneer u ’n maat help om stres te probeer verminder, kan dit verdere ontwikkeling of verergering van geestesgesondheidsprobleme verhoed en eintlik die verhouding sterk hou,” sê Matthew Johnson, verhoudingsnavorser en professor by die universiteit se Faculty of Agricultural, Life and Environmental Sciences. “In studies wat gedoen is, word daar voorgestel dat mens ondersteuning bied waarvan jou maat nie eers bewus is nie, maar steeds ’n hulpvaardige gebaar is, soos om ’n opwasbak vol skottelgoed te was nog voordat hulle dit gesien het."

Raak aktief

Liggaamsaktiwiteit het ’n antidepressiewe uitwerking. Een baie goeie manier om iemand met ’n geestestoestand te ondersteun, is om seker te maak hulle raak aktief. Die persoon wat deur die geestestoestand geraak word, mag dalk voel hulle wil eerder aktiwiteit of oefening vermy, maar die beste ding wat u vir hom of haar kan doen, is om gereeld saam te gaan stap.

Maak seker ’n professionele persoon is betrokke

Indien u vermoed dat ’n vriend, ’n kollega of ’n familielid aan ’n geestestoestand ly, moet u hulle probeer oorreed om ’n professionele mediese persoon te raadpleeg. ’n Huisdokter kan vir die persoon met die geestestoestand ’n psigiater en/of sielkundige aanbeveel, of u kan deur ’n gemeenskapsentrum vir geestesgesondheid in u omgewing werk.