Moderne maniere om na vrouegesondheid om te sien

Vir die grootste gedeelte van die vorige eeu het mense min aandag aan vrouegesondheid geskenk. Gelukkig is dit besig om te verander.

Die vakgebied van vrouegesondheid is nie meer tot reproduktiewe of seksuele gesondheid beperk nie. Ons leefstyl is besig om te verander. Die studie van vrouegesondheid sluit nou ook die uitwerkings van hierdie veranderinge op vroue se gesondheid in.

Vroue hanteer stres wat hul gesondheid raak

Die stres en angs van die moderne lewe het ’n groot uitwerking op ’n beduidende aantal vroue. Volgens hulle het stres en angs die grootste negatiewe invloed op hul gesondheid. Die lewe is besig en daar is dikwels net nie genoeg tyd om reg te eet, te oefen en genoeg te slaap nie.

Al hoe meer vroue kry hartaanvalle of beroertes, en word gediagnoseer met kanker, chroniese asemhalingsiektes of diabetes.

Die goeie nuus

Vroue lewe nie net langer nie, hulle is ook gesonder. As jy beter gesondheid wil geniet, is dit belangrik om na jou liggaam om te sien en dit te verstaan.

Die vooruitgang van digitale¬gesondheidstegnologie beteken ondersteuning is maklik beskikbaar as:

  • Mediese advies deur toegang tot wêreldwye inligtingsbronne
  • Dienste soos om enige tyd medisyne aanlyn met die druk van ’n knoppie te bestel
  • Toegang tot digitale hulpmiddels wat jou in staat stel om jou familiegeskiedenis en gesondheidsrisiko’s te verstaan
Neem beheer

Gaan gereeld vir siftingstoetse

Voorsorg voorkom steeds nasorg. Die oorlewingskoers word drasties verhoog as probleme vroeg opgespoor word en vroeë ingryping dus plaasvind.

Die volgende toetse is noodsaaklik:

  • ’n Mammogram om borskanker op te spoor
  • ’n Papsmeer om vir servikale kanker te toets
  • Om jou bloedsuiker, bloeddruk en cholesterol te toets en jou liggaamsmassa indeks (BMI) uit te werk om vas te stel of jy die risiko loop van hoë bloeddruk, tipe 2 diabetes, hoë cholesterol of vetsug.

Vrouelede van Remedi het dekking vir een mammogram asook een Papsmeer elke jaar mits hulle ’n voorkeurverskaffer gebruik.

Jy het ook dekking vir elke lid van jou gesin wat op Remedi geregistreer is, om by ’n voorkeurverskaffer hul gesondheidsmetings te laat neem. Vir meer inligting oor watter apteke jy kan besoek om die gesondheidsondersoek te laat doen, skakel ons by 0860 116 116.

Lees na!

Goeie inligting is beskikbaar oor alle aspekte van vrouegesondheid, soos voeding, oefening, hoe sekere soorte medisyne se uitwerking op mans en vroue verskil, asook die simptome van sekere toestande (soos ’n hartaanval).

Voed jouself met minerale en vitamiene

Sekere minerale en vitamiene is noodsaaklik vir optimale vrouegesondheid. Dit sluit foliensuur, vitamien B12, vitamien D, kalsium en yster in. ’n Gesonde dieet behoort genoeg hiervan te bevat, maar as jy voel dat jy nie genoeg daarvan inneem nie kan jy met jou gesondheidsorgverskaffer oor aanvullings gesels.